PRAAT SAAM is 'n forum vir demokrasie in aksie. Dis die kans vir elke burger om sy sê te sê en deel te wees van die openbare debat. Dit is jou program om inligting te kry, ander se perspektiewe te hoor en gesamentlik te help soek na oplossings.
Praat saam 1 April 2022
In die laaste aflewering van PRAAT SAAM: Het Suid-Afrika 'n land geword van vryhede sonder verantwoordelikheid en ongewenste aksies sonder gevolge? Politieke ontleder Theo Venter, afgetrede polisie-generaal Johan Booysen en Solidariteit-voorsitter Flip Buys bespreek dit.
4/1/2022 • 46 minutes, 43 seconds
Praat saam 31 Maart 2022
Die maatskaplike vernietiging wat tikverslawing aan gemeenskappe aanrig, word bespreek deur Hannelie Krige, wat pas haar doktorsgraad verwerf het met 'n studie oor die impak van tikverslaafdheid op die werk van maatskaplike werkers, en Melene Rossouw, prokureur en stigter van die Women Lead-beweging.
3/31/2022 • 41 minutes, 17 seconds
Praat saam 30 Maart 2022
Watter rol speel geografie in die hantering van misdaad? Dis die vraag wat die sosiale aktivis Lorenzo Davids, polisiekenner Lennit Max en die Kaapstadse burgemeesterskomiteelid JP Smith bespreek.
3/30/2022 • 37 minutes, 49 seconds
Praat saam 29 Maart 2022
Is behoorlike erkenning vir inheemse gemeenskappe nou voor die deur? Prof. Nico Botha, voorsitter van die kommissie vir Khoisan-aangeleenthede, en Anthony Williams van die organisasie IFNASA praat hieroor.
3/29/2022 • 43 minutes
Praat saam 28 Maart 2022
Kritiese denke is die ontleding van feite om 'n oordeel te vorm. Dit sluit die rasionele, skeptiese, onbevooroordeelde analise of evaluering van feitelike bewyse in. Ons bespreek die konsep van kritiese denke en hoe 'n land, maatskappy of samelewing lyk as almal ja-broers en napraters is, en die status quo nie bevraagteken word nie.
3/28/2022 • 33 minutes, 7 seconds
Praat saam 25 Maart 2022
Die Afrika Ontwikkelingsbank sê hy sal oor die volgende vyf jaar R42,5 miljard aan Suid-Afrika beskikbaar stel. Die president van die bank, Akinwumi Adesina, sê die geld sal gebruik word om staat- en privaatsektorbeleggings in prioriteitsektore van die ekonomie te steun. Dit sluit in landbou, energie, vervoer, jeugindiensneming, gesondheid en entstofvervaardiging. Hy sê die finansiële instelling steun Suid-Afrika omdat hy in die land se ekonomiese potensiaal glo. Ons bespreek beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika met Covidregulasies wat nog ‘n realiteit is.
3/25/2022 • 36 minutes, 5 seconds
Praat saam 24 Maart 2022
Die Menseregtestigting sê die viering van Menseregtedag bly ‘n uitdaging in Suid-Afrika, waar kwesbare groepe steeds geen regte het nie. Menseregtedag val saam met die Sharpeville-skietery in 1960 waar 69 mense dood en tientalle gewond is toe die polisie op ‘n groep betogers geskiet het. Die bestuurder van die stigting, Sarah Motha, sê daar is steeds ‘n hoë vlak van onverdraagsaamheid in Suid-Afrika. Motha sê hoewel onderrig in menseregte ‘n verpligte deel van die skoolkurrikulum is, word die voorbeelde van verdraagsaamheid tussen mense al hoe minder. Ons bespreek die regte van een van die land se kwesbare groepe, die gaygemeenskap, en vra of hulle menseregte beskerm word.
3/24/2022 • 35 minutes, 46 seconds
Praat saam 23 Maart 2022
Dominante mans het nog altyd groter seksuele sukses behaal as mans wat meer inskiklik is, skryf sielkundige Louis Awerbuck in ‘n rubriek. Geweld, wat oorlog insluit, se donker wortels groei dus vanuit die magstryd oor status tussen mans. Ons bespreek die sielkunde van boeliegedrag, en die impak wat dit op die samelewing het. Is oorlog en geweld nie maar net boeliegedrag nie?
3/23/2022 • 40 minutes, 56 seconds
Praat saam 22 Maart 2022
Waterbestuurspesialis Karen Bosman en prof. Loretta Feris, wat in omgewingsreg spesialiseer, bespreek water as 'n skaars hulpbron.
3/22/2022 • 46 minutes, 15 seconds
Praat saam 21 Maart 2022
Die Menseregte-kommissaris eerw. Chris Nissen en die prokureur Willie Spies bespreek in dié Menseregtedag-gesprek die vraag of menseregte 'n politieke speelbal geword het.
3/21/2022 • 46 minutes, 13 seconds
Praat saam 18 Maart 2022
Die aard van sosiale diskoers in Suid-Afrika en wat gedoen kan word om meer brugbouers te skep, word bespreek. Die gaste is dr. Rudi Buys van die Cornerstone-instituut, Kallie Kriel van AfriForum en die sosio-politieke kommentator eerwaarde Courtney Sampson.
3/18/2022 • 43 minutes, 36 seconds
Praat saam 17 Maart 2022
Opvoedkundige sielkundige Quinton Adams, bekend as The Shackbuilder, en Caroline Peters van die Callus-gemeenskapsprojek praat oor die noodsaaklikheid en volhoubaarheid van die R350 Covid-toelae.
3/17/2022 • 43 minutes, 52 seconds
Praat saam 16 Maart 2022
Die risikobestuurskenners, prof. Dewald van Niekerk van NWU en Petrus de Kock van die bestuurskonsultasiemaatskappy RiskRecon, praat oor die verlenging van die ramptoestand.
3/16/2022 • 40 minutes, 11 seconds
Praat saam 15 Maart 2022
Metrorail sê treindienste tussen Bellville en Kaapstad word vandeesweek hervat nadat dit vir bykans twee jaar gesluit was. Metrorail het die spoorlyn in Maart 2020 gesluit toe Vlak-5 inperkingsmaatreëls die eerste keer ingestel is. Die woordvoerder, Nana Zenani, sê proefritte het gister begin waarna die spoorlyn sy dienste vir pendelaars Woensdag sal oopstel. Zenani sê ‘n rooster met nuwe treinskedules sal ook in werking gestel word. Sy sê al die stasies op die roete sal oopgestel word behalwe die Parow-stasie wat onder vandale deurgeloop het en nog nie gereed is om oop te maak nie. Ons bespreek die agteruitgang van die land se spoorstelsel, die gevolge hiervan en vra of dit moontlik is om dit om te draai en te laat herleef.
3/15/2022 • 40 minutes, 42 seconds
Praat saam 14 Maart 2022
Kerkleiers het gewaarsku dat die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne ‘n verwoestende uitwerking op sosio-ekonomiese toestande wêreldwyd sal hê. Kerkleiers het ‘n gebedsdiens van die KwaZulu-Natalse Christelike Raad in Pietermaritzburg bygewoon. Die Verenigde Nasies se Kommissaris vir Menseregte het vroeër gesê meer as ‘n miljoen mense het reeds uit Oekraïne gevlug, en honderde burgerlikes is dood sedert Rusland die Oekraïne op 24 Februarie binnegeval het. Die adjunkhoofbestuurder van die raad, Lucas Ngwejana, sê sommige lande voel reeds die gevolge van die konflik, en waarsku dat die koste van oorlog baie hoër is as wat mense kan bekostig. Ons bespreek die Kerk en geloofsinstansies se rol en verantwoordelikheid in 'n tyd van oorlog. Hoe moet hulle die debat betree en leiding gee? Is bid genoeg?
3/14/2022 • 39 minutes, 52 seconds
Praat saam 11 Maart 2022
Ekonoom dr. Roelof Botha praat oor die kwessies van die land en waaruit sy kenmerkende positiewe ingesteldheid spruit. Suid-Afrika is g'n mislukte staat nie, sê hy.
3/11/2022 • 44 minutes, 59 seconds
Praat saam 10 Maart 2022
Onwettige vuurwapens bly ‘n euwel. Ons vra die gemeenskapsaktivis Roegshanda Pascoe, Gideon Joubert van Gun Owners SA en die DA se Reagen Allen waar die problem ontstaan het en hoe dit opgelos kan word.
3/10/2022 • 43 minutes, 5 seconds
Praat saam 9 Maart 2022
Kunstefeeste begin hulle vere regskud vir feesgangers met die minder strenger Covid-inperkingsmaatreëls wat tans geld. Ons praat hieroor met Crispin Sonn, die KKNK se direksievoorsitter, en Saartjie Botha van die Woordfees.
3/9/2022 • 42 minutes, 4 seconds
Praat saam 8 Maart 2022
Op Wêreld Vrouedag kyk Heindrich Wyngaard, prof. Amanda Gouws, dr. Thelma Louw en pastoor Neldine Erasmus na die rol van huisvroue.
3/8/2022 • 38 minutes, 35 seconds
Praat saam 7 Maart 2022
Die mediakenner, prof. Johannes Froneman, en die uitgewer van Vrye Weekblad, Max du Preez, praat oor die inligtingsoorlog wat addisioneel tot die Rusland-Oekraïne-konflik gevoer word.
3/7/2022 • 45 minutes, 32 seconds
Praat saam 4 Maart 2022
Vandag is Wêreld Ingenieursdag vir Volhoubare Ontwikkeling. Die regering het verlede jaar onder kritiek deurgeloop nadat Kubaanse ingenieurs na Suid-Afrika ingevoer is om te help met tegniese probleme by staatsinstellings. Ons bespreek die kwaliteit, opleiding, geleenthede en toekoms van Suid-Afrikaanse ingenieurs.
3/4/2022 • 33 minutes, 52 seconds
Praat saam 3 Maart 2022
Die voormalige sekretaris-generaal van die ANC en die Minister van Mineralehulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, sê hy sal weldra reageer op die derde deel van die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping waarin hy geïmpliseer word. Volgens getuienis voor die kommissie het BOSASA veiligheidsopgraderings by drie van Mantashe se eiendomme gedoen. Hy het vroeër ontken dat hy deur BOSASA betaal is, óf dat die maatskappy R300,000 vir veiligheidsopgraderings by sy eiendom betaal het. Maak korrupte- of bruinkoevertgeld wat stom is, reg wat krom is?
3/3/2022 • 41 minutes, 23 seconds
Praat saam 2 Maart 2022
Onderwysvakbonde hoop die onderwyssektor sal verbeter ná die minister van finansies se begroting en toewysing van fondse vir dié sektor. Sien ons waarde vir geld in die onderwyssektor gegewe die kaliber leerders wat gelewer word?
3/2/2022 • 43 minutes, 4 seconds
Praat saam 1 Maart 2022
Suid-Afrika se ambassadeur in Oekraïne, André Groenewald, sê maatreëls is ingestel om Suid-Afrikaanse studente te help wat weens die Russiese inval in Oekraïne gestrand is. Intussen het gesprekke tussen Rusland en Oekraïne versigtig begin. Volgens Oekraïne is die belangrikste kwessie op die agenda ‘n skietstilstand en die onttrekking van Russiese soldate uit sy se grondgebied. Wat is die gevolge van ‘n volskaalse oorlog in die land en Europa?
3/1/2022 • 43 minutes, 19 seconds
Praat saam 28 Februarie 2022
Ná die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede verlede week sal sondebelasting belastingbetalers se klein plesiertjies aansienklik inkort. Hoe sal die belastinglandskap voortaan lyk?
2/28/2022 • 41 minutes, 12 seconds
Praat saam 25 Februarie 2022
Wêrelddag vir Sosiale Geregtigheid word elke jaar op 20 Februarie gevier. Hoe sien Suid-Afrikaners sosiale geregtigheid in hulle leefwêreld en geskiedenis?
2/25/2022 • 40 minutes, 8 seconds
Praat saam 24 Februarie 2022
Die menseregte-organisasie, Amnestie Internasionaal, het 'n beroep op die regering gedoen om staatsbeskerming aan fluitjieblasers te bied. Die versoek kom nadat Athol Williams op 1 November verlede jaar ná doodsdreigemente landuit gevlug het. Williams is een van die fluitjieblasers wat voor die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping getuig het. Hoe beskerm ons fluitjieblasers?
2/24/2022 • 40 minutes, 4 seconds
Praat saam 23 Februarie 2022
Cosatu het ‘n beroep gedoen op die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, om dringend aandag te gee aan werkloosheid in sy begroting. Godongwana lewer sy begrotingsrede te midde van dreigemente van betogings deur die EFF en die vakbondfederasie Saftu. ‘n Woordvoerder van Cosatu, Sizwe Pamla, hoop Godongwana kan tweemiljoen werksgeleenthede deur die presidensiële indiensnemingsprogram skep. Ons kyk na die politieke en sosiale oorwegings wat die minister in ag moet neem.
2/23/2022 • 43 minutes, 1 second
Praat saam 22 Februarie 2022
AgriSA se bestuurshoof Christo van der Rheede sê die verhoogde minimumlone wat in die Staatskoerant gepubliseer is, is onvolhoubaar en hou ‘n bedreiging in vir werksekerheid. Die verhoogde lone tree in Maart in werking. Intussen het die Instituut vir Toekomsnavorsing ‘n studie oor die toekoms van arbeid in die landbousektor bekendgemaak. Wat is die moontlike werkscenarios wat binne die landbousektor kan ontvou?
2/22/2022 • 40 minutes, 55 seconds
Praat saam 21 Februarie 2022
Die Tshwane-metro se skuldinvorderingsveldtog om dienste van kliënte af tye skakel, wat die afgelope drie maande nie betaal het nie, vorder fluks. Die munisipaliteit word meer as R17-miljard geskuld. Die burgemeester, Randall Williams, sê munisipale dienste is nié gratis nie. Ons bespreek skuldinvordering op plaaslike regeringsvlak, en hoe om te verseker dat dit effektief gedoen word.
2/21/2022 • 42 minutes, 19 seconds
Praat saam 18 Februarie 2022
Dit is nege jaar sedert Oscar Pistorius sy vriendin Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Hy dien tans sy vonnis uit, en is verlede jaar van Pretoria na Gqeberha in die Oos-Kaap verskuif sodat hy met Reeva se ouers in gesprek kan tree as deel van ‘n slagoffer/oortreder-dialoog wat deel is van die proses om oor sy parool te besluit. Hy het reeds meer as die helfte van sy vonnis uitgedien. Waarom is die toestaan van parool so ‘n komplekse proses?
2/18/2022 • 40 minutes, 30 seconds
Praat saam 17 Februarie 2022
Die direkteurgeneraal van die Wêreld Gesondheidsorganisasie, dr. Tedros Ghebreyesus, sê kliniese toetse vir ‘n Covid-19 entstof, wat in Suid-Afrika vervaardig gaan word, sal binnekort begin. Suid-Afrika is gekies as die eerste land in Afrika om entstowwe vir die vasteland te vervaardig. Daar word gehoop dat die pandemie onder beheer sal wees indien 70% van die wêreldbevolking teen die middel van die jaar ingeënt is. Hoe het wêreldleiers hulle staal getoon met die bestuur van die pandemie?
2/17/2022 • 40 minutes, 30 seconds
Praat saam 16 Februarie 2022
Rusland se ministerie van verdediging sê van die Russiese soldate in die suidelike en westelike distrikte op die grens met Oekraïne gaan nou na hulle basisse terugkeer, nadat militêre oefeninge afgehandel is. Grootskaalse militêre oefeninge gaan wel in ander distrikte voort. Sowat 100,000 Russiese soldate is naby die grens met Oekraïne ontplooi, wat vrese laat ontstaan het dat Rusland beplan om die land binne te val. Ons bespreek die sensitiewe verhouding tussen Oekraïne en Rusland, en die internasionale politieke gevolge indien die spanning sou oorkook.
2/16/2022 • 42 minutes, 37 seconds
Praat saam 15 Februarie 2022
ActionSA wil teen 2024 die tweede grootste politieke party in Suid-Afrika wees. By hulle afgelope strategiese beplanningsessie, het hulle opgeweeg hoe hulle kan voortbou op verlede jaar se suksesse tydens die plaaslike regeringsverkiesing. Een van die planne is om op die opleiding en prestasiesbestuur van sy raadslede te fokus. Is daar aptyt vir ‘n nuwe politieke party in die huidige bestel?
2/15/2022 • 40 minutes, 49 seconds
Praat saam 14 Februarie 2022
Die tesouriergeneraal van die ANC, Paul Mashatile, sê ANC-lede voel sterk dat president Cyril Ramaphosa homself vir nog ‘n termyn as president van die party beskikbaar moet stel, sodat hy kan voortgaan met sy stryd teen korrupsie. Mashatile sê Ramaphosa fokus sedert die begin van sy termyn daarop om korrupsie uit te roei en te verseker dat staatsinstellings optimaal funksioneer. Slaag die president in sy pogings?
2/14/2022 • 39 minutes, 20 seconds
Praat saam 11 Februarie 2022
Seksueel oordraagbare infeksies word deur seksuele kontak van een persoon na 'n ander versprei. Hierdie siektes wat algemeen voorkom, kan pyn en onvrugbaarheid meebring, en selfs tot die dood lei indien dit nie behandel word nie. Hoe beskerm jy jouself?
2/11/2022 • 37 minutes, 9 seconds
Praat saam 10 Februarie 2022
Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê ten spyte van logistieke probleme om een van die belangrikste geleenthede op die Parlement se kalender buite die parlementêre perseel aan die bied, is hulle vol vertroue dat die staatsrede suksesvol sal wees. Sowat 300 parlementslede van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies beplan om dit in persoon by te woon. Die res sal dit aanlyn volg. Weg van vertoon en skynbare glans, is die oë op president Cyril Ramaphosa wat burgers moet oortuig om in te koop op sy planne vir die land.
2/10/2022 • 42 minutes, 17 seconds
Praat saam 9 Februarie 2022
Die afskaffing van die rotasiestelsel by skole het weer die fokus geplaas op oorvol klasse en min hulpbronne. Die onderwysersvakbond, EUSA, oorweeg regstappe teen die Departement van Basiese Onderwys oor swak infrastruktuur by skole landwyd. Hulle wil die departement dwing om die verbetering van infrastruktuur en die beskikbaarheid van tegnologie te prioritiseer. Hoe moet die Departement van Basiese Onderwys sy jarelange tekortkominge en swak beplanning aanpak?
2/9/2022 • 40 minutes, 17 seconds
Praat saam 8 Februarie 2022
Die Regterlike Dienskommissie het die president van die Appèlhof, regter Mandisa Maya, aanbeveel as die geskikste kandidaat vir die amp as hoofregter. Die ander kandidate is die waarnemende hoofregter, Raymond Zondo, die regter van die konstitusionele hof, Mbuyiseli Madlanga, en die Gautengse regterpresident, Dunstan Mlambo. Indien Maya deur die president aangestel sou word, sal sy die eerste vroueregter wees wat die amp van hoofregter van die Konstitusionele Hof beklee. Moet geslag ‘n rol speel in aanstellings?
2/8/2022 • 39 minutes, 56 seconds
Praat saam 7 Februarie 2022
Die regering gaan sowat R50-miljoen skenk aan Kubane wie se voedselsekerheid bedreig word weens sanksies wat die VSA teen die land ingestel het. Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Alvin Botes, sê die ingryping deur die Suid-Afrikaanse regering is genoodsaak deur die uitdagings wat Kubane in die gesig staar. Wie baat die meeste by hierdie vennootskap?
2/7/2022 • 38 minutes, 50 seconds
Praat saam 4 Februarie 2022
Kanker bly wêreldwyd een van die hoofoorsake van dood, met miljoene mense wat jaarliks gediagnoseer word. Met voortgesette navorsing en mediese deurbrake weet ons meer van kanker met beter behandelingsopsies en gunstige resultate. Op Wêreldkankerdag praat ons oor die vordering wat gemaak is en die belangrikheid van ‘n tweede mediese opinie.
2/4/2022 • 38 minutes, 37 seconds
Praat saam 3 Februarie 2022
Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek twee dwelmverwante voorvalle waar mense doodgeskiet is. Agt mense is in Richmond by ‘n sogenaamde dwelmhuis doodgeskiet en twee is gewond. In ‘n ander aanval op Amaoti naby Inanda het drie aanvallers by ‘n spazawinkel stilgehou en op ‘n groep mense wat agter die winkel gesit het, losgebrand. Besef Suid-Afrikaners die omvang van die dwelmkrisis in die land?
2/3/2022 • 41 minutes, 39 seconds
Praat saam 2 Februarie 2022
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ‘n beroep gedoen vir ‘n nasionale dialoog oor buitelandse burgers. Die raad sê hy is baie bekommerd dat ‘n misplaaste woord of daad tot geweld teen buitelanders kan lei. Wat is die geleenthede en uitdagings vir immigrante en buitelanders as hulle ‘n nuwe tuiste in Suid-Afrika wil skep?
2/2/2022 • 44 minutes, 49 seconds
Praat saam 1 Februarie 2022
Die Nasionale Tesourie het sy planne uiteengesit vir die R11,5 miljard lening wat die Wêreldbank aan Suid-Afrika goedgekeur het. Die direkteurgeneraal van die Tesourie, Dondo Mogajane, sê die bedrag sal as ‘n buffer dien sou die regering dit benodig, maar in hierdie stadium is dit net ‘n reserwe. Wat behoort die fokus vir besteding te wees in hierdie swak ekonomiese tye, en hoe skep ons beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika?
2/1/2022 • 39 minutes
Praat saam 31 Januarie 2022
President Cyril Ramaphosa het verskeie nuwe lede by die Nasionale Beplanningskommissie in die nasionale departement van beplanning, monitering en evaluering aangewys. Hulle aanstellings geld vir vyf jaar, en het op 1 Desember 2021 in werking getree. Hoe relevant is die kommissie nog?
1/31/2022 • 43 minutes, 24 seconds
Praat saam 28 Januarie 2022
Daar is meer as eenmiljoen aansoeke by nege van die land se universiteite, wat slegs sowat 80 000 studente kan akkomodeer. Die soeke na ‘n graad van ‘n universiteit taan nie. Daar is egter beperkte plek en hulpbronne. Wat is die alternatiewe vir diegene wat wel verder wil studeer?
1/28/2022 • 41 minutes, 16 seconds
Praat saam 27 Januarie 2022
Die 158 vuurwapens wat uit die bewyskamer by die Norwood-polisiestasie in Johannesburg verdwyn het, is glo net die oortjies seekoei, volgens die DA se woordvoerder oor polisiesake, Okkie Terblanche. Die polisie is glo nie in staat om hulle eie vuurwapens veilig te hou nie. In die afgelope vyf boekjare is 3 405 amptelike polisievuurwapens gesteel of het vermis geraak, sê Terblanche. Ons praat oor die manier waarop die polisie hulle eie en ander eienaars se vuurwapens bestuur.
1/27/2022 • 39 minutes, 27 seconds
Praat saam 26 Januarie 2022
Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie, Naptosa, sê hy verwelkom die Departement van Basiese Onderwys se beleid oor die voorkoming en bestuur van swangerskap by leerlinge. Dit volg nadat die aantal swanger minderjariges die afgelope tyd skerp gestyg, en leerlinge so jonk as tien jaar oud geboorte geskenk het. Die beleid, wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is, verplig skole om onder meer swangerskappe van minderjariges by die polisie aan te meld. Behoort skole ‘n rol te speel in die voorkoming van tienerswangerskappe?
1/26/2022 • 43 minutes, 6 seconds
Praat saam 25 Januarie 2022
Barmhartige samaritaan, filantroop, wonderwerker en Suid-Afrika se 2021 Persoon van die Jaar volgens lesers van die Daily Maverick. Dr. Imtiaz Sooliman se Gift of the Givers is die grootste rampbestuurspan op in Afrika, en slaag daarin om hulp te verleen waar hoop op ‘n menswaardige en veilige bestaan dikwels ontbreek. Hoe kry hulle dit reg?
1/25/2022 • 43 minutes, 50 seconds
Praat saam 24 Januarie 2022
Die voormalige DA-leier, Mmusi Maimane, en nou stigterslid van One South Africa, twiet dat Suid-Afrikaners nie toeskouers van die geskiedenis moet wees nie, maar moet deelneem en ‘n impak maak sodat toekomstige generasies moet weet dat hulle opgestaan het vir ‘n saak toe die nasie hulle nodig gehad het. Hy het destyds met sy bedanking gesê hy het geen planne om 'n nuwe politieke party te stig nie. Toe besluit hy op ‘n burgerlike organisasie. Wat is die relevansie van burgerlike organisasies in die bou en voortsetting van demokrasie in Suid-Afrika?
1/24/2022 • 37 minutes, 17 seconds
Praat saam 21 Januarie 2022
Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 2022 Oscartoekennings vir Best International Feature is BARAKAT, die eerste Moslemrolprent in Afrikaaps. Vinette Ebrahim speel die rol van Aisha Davids, ‘n vrou wat die dood van haar man probeer verwerk en nuwe liefde in haar lewe wil verwelkom. Die rolprent is ook bekroon as die beste rolprent by die Bricsfees. Die meeste mense ken haar as Charmaine Meintjies van 7de Laan en Ellen Pakkies op die verhoog. Dié veteraanaktrise en kunsaktivis het die gawe om lewe aan enige karakter te gee, en hulle menslikheid en feilbaarheid met ons te deel.
1/21/2022 • 42 minutes, 31 seconds
Praat saam 20 Januarie 2022
Wêreldwyd het meer as eenmiljoen kinders een ouer of grootouer in die eerste 14 maande van die Covid-pandemie verloor. Sielkundiges sê ons sal eers met verloop van tyd agterkom hoeveel emosionele en geestelike verliese daar vir kinders was. Praat saam oor jou kind, peuter, tiener of jong volwassene se leefervaring met die pandemie. Ons bespreek kindertrauma en Covid.
1/20/2022 • 38 minutes, 37 seconds
Praat saam 19 Januarie 2022
Volgens ‘n verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum sal ongelykhede, wat reeds ‘n uitdaging was in sekere lande vóór die coronaviruspandemie, toeneem. Die WEF se Globale Risiko-verslag vir 2022 wys dat ekonomiese en sosiomaatskaplike gevolge weens die pandemie sal uitkring. ‘n Afname in sosiomaatskaplike integrasie en inklusiwiteit bedreig 31 lande, waaronder Suid-Afrika, Argentinië en Mexiko. Wat is die ekonomiese impak op die middelklas?
1/19/2022 • 44 minutes, 21 seconds
Praat saam 18 Januarie 2022
Daar is bespiegeling dat die 2021-matriekslaagsyfer weens die Covid-pandemie laer as 70% kan wees. Wat is die waarde van ‘n matrieksertifikaat in 2022 en vorentoe?
1/18/2022 • 37 minutes, 48 seconds
Praat saam 17 Januarie 2022
'n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Tony Yengeni, sê die waarnemende hoofregter, Raymond Zondo, het het sy perke oorskry toe hy gereageer het op opmerkings van die Minister van Toerisme, Lindiwe Sisulu. Zondo het verlede week skerp gereageer op ‘n meningsartikel van Sisulu waarin sy vra vir ‘n algehele hersiening van die regbank, en kritiek gelewer het oor Afrika-regters en die Grondwet. Hoe geldig is haar kritiek?
1/17/2022 • 41 minutes, 25 seconds
Praat saam 14 Januarie 2022
Elon Musk meen ‘n universele basiese inkomste is nodig want fisiese werk sal volgens hom 'n keuse wees in die toekoms. Hy dink met die vierdie industriële rewolusie sal werk net skaarser word, en regerings moet begin kyk na basiese inkomste vir mense wat nie werk het nie. Indien nie, stuur ons af op ‘n ekonomiese ramp. Praat saam oor die waarde (vir sommige ‘n noodsaaklikheid) van ‘n basiese inkomstetoelaag in ‘n Suid-Afrikaanse konteks.
1/14/2022 • 41 minutes, 54 seconds
Praat saam 13 Januarie 2022
Sedert emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se heengaan het die debat opgevlam oor die doel van die destydse Waarheid- en Versoeningskommissie, en of dit daarin geslaag het om geregtigheid te laat seevier.
1/13/2022 • 41 minutes, 47 seconds
Praat saam 12 Januarie 2022
Ouers en leerders is druk besig met voorbereidings vir die 2022-skooljaar. Binnelandse skole heropen vandag. Die meeste ouers wil hulle kinders in die beste moontlike skool plaas, maar dit kom baie keer teen ‘n stewige prys. Sommige staatskole se skoolfooie is tussen R30,000 en R50,000 per jaar. By sommige elite privaatskole is dit drie keer soveel. Aan die ander kant van die spektrum is daar skole wat geen skoolfooie vra nie. Ons praat oor skoolfooie, en of ‘n duur skool uitnemendheid waarborg.
1/12/2022 • 41 minutes, 51 seconds
Praat saam 11 Januarie 2022
Verkeersowerheide het die afgelope feestyd hulle hande vol gehad met druk verkeer op die land se hoofroetes. Daar is ‘n beroep op padgebruikers gedoen om alle verkeersreëls te gehoorsaam. Dit volg te midde van verskeie botsings wat honderde lewens geëis het. Die meeste ongelukke word toegeskryf aan motoriste se swak padgedrag en onverantwoordelike optrede, soos om die spoedgrens te oorskry, voertuie oor sperstrepe verby te steek en roekeloos van bane te verwissel. Hoe kan ons die land se paaie veiliger maak?
1/11/2022 • 41 minutes, 4 seconds
Praat saam 10 Januarie 2022
Die ANC is 110 jaar oud. Die regerende party het die naweek onder moeilike omstandighede sy verjaarsdag in Limpopo gevier. Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, wou nie bevestig of daar ‘n komplot is om die land of die party te destabiliseer nie. Ná die onlangse brand by die parlement, ‘n voorval van vandalisme by die konstitusionele hof, en ‘n kragonderbreking by die party se fondsinsamelingsdinee is daar bespiegel dat daar van binne die party gewerk word om die regering te destabiliseer. Ons bespreek die volhoubaarheid van die ANC.
1/10/2022 • 40 minutes, 8 seconds
Praat saam 24 Desember 2021
Die onluste in Julie; toenemende werkloosheid; misdaadstatistiek wat jaarliks verhoog; korrupsie; swak ekonomiese groei; beurtkrag; swak dienslewering; die petrolprys; en voosheid oor Covid-19. Ons het dit alles op die afgelope twee jaar op Praat Saam gehoor en bespreek. In die laaste program van 2021 wil ons weet: Wat maak jou positief oor Suid-Afrika?
12/24/2021 • 37 minutes, 10 seconds
Praat saam 23 Desember 2021
Wetstoepassers het in George beslag gelê op bykans R10 000 se alkohol. Die munisipaliteit sê in weerwil van ‘n beleid van geen alkohol op strande, het vakansiegangers wel drank daarheen gesmokkel. Ons praat oor verantwoordelike drankgebruik, drankmisbruik en die maatskaplike probleme wat dit meebring.
12/23/2021 • 37 minutes, 29 seconds
Praat saam 22 Desember 2021
Afrikaans, Khoi, San en Nama bly uitgesluit as inheemste tale in die nuwe taalbeleidsraamwerk vir tersiêre instellings, in weerwil van vele verklarings, ondernemings en sogenaamde konsultasies. Verskeie drukgroepe het die minister se taalbeleid gekritiseer, en gewys op die afwesigheid van taaldiversiteit. Vanoggend is ‘n opvolg op ‘n vorige program oor Afrikaans: wie moet vir die taal veg?
12/22/2021 • 41 minutes, 48 seconds
Praat saam 21 Desember 2021
Watter impak het die Covid-pandemie op nuusagendas gehad? Hoe is komplekse boodskappe oorgedra in 2021?
12/21/2021 • 42 minutes, 19 seconds
Praat saam 20 Desember 2021
Die ANC in KwaZulu-Natal het die party se Nasionale Uitvoerende Komitee gevra om betrokke te raak by oudpresident Jacob Zuma se appèlsaak oor sy mediese parool. Die Hooggeregshof het beslis dat die parool wat in September aan Zuma toegestaan is, onwettig is en dat hy moet teruggaan tronk toe. Zuma se regspan het kort ná die uitspraak hofstukke vir die appèlproses ingedien. Hoe lyk die politieke en sosiale stabiliteit met ‘n Jacob Zuma-tronkstraf nadat sy mediese parool onwettig verklaar is?
12/20/2021 • 41 minutes, 26 seconds
Praat saam 17 Desember 2021
Die lengte van haar romp, haar halslyn, was so uitlokkend, haar sjoebroekie sê sy wou dit hê want waarom sou sy dan so aantrek? Ons hoor gereeld hoe Suid-Afrikaners (vroue inkluis) kleredrag as die rede vir die regverdiging van verkragting opper. Ons praat oor die politiek van kleredrag (en die kleur van klere).
12/17/2021 • 40 minutes, 59 seconds
Praat saam 16 Desember 2021
Wat is ons gedeelde waardes as Suid-Afrikaners op Versoeningsdag? ‘n Luisteraar Cristoph Muller deel uitstreksels uit sy brief.
12/16/2021 • 39 minutes, 3 seconds
Praat saam 15 Desember 2021
Die Covid-19-pandemie het die werksomgewing ingrypend verander, met baie werknemers wat van die huis af moet werk. Ons praat oor werknemerswelstand in die tyd van ‘n pandemie.
12/15/2021 • 39 minutes, 34 seconds
Praat saam 14 Desember 2021
Van die voorgestelde wysigings aan die Suid-Afrikaanse skolewet kloof reeds die hare. Van die voorstelle is dat ouers vervolg kan word as hulle nie hulle kind vir Graad-R inskryf nie. Alkohol kan ook op die skoolterrein verkoop word vir fondsinsameling. Daar is ook voorgestelde wysigings oor die indiensneming van opvoeders. Sal dit die skolestelsel verbeter?
12/14/2021 • 41 minutes, 47 seconds
Praat saam 13 Desember 2021
In internasionale geloofskringe woed daar ‘n debat oor die nuwe vertaling en weergawe van die Bybel wat onlangs vryggestel is. Daar is onder meer ongelukkigheid oor hoe sekere tekste verander is, sommige weggelaat is, en selfs die tradisionele weergawes weerspreek. Ons praat oor die verandering, al die weergawes, die interpretasie en aanpassings van gelowiges se heilige geskrifte. Hoe voel jy daaroor?
12/13/2021 • 48 minutes, 6 seconds
Praat saam 10 Desember 2021
‘n Videogreep waar ‘n 13-jarige leerder ‘n onderwyseres vir ‘n tweede keer probeer aanrand, maak opslae op sosiale media. Die seun is glo intussen geskors terwyl verdere ondersoeke afgehandel word. Onderwysers is dikwels in die spervuur van leerders se woede. Hulle word fisies aangerand, en verbaal en emosioneel geboelie. Wat moet die onderwysgemeenskap doen om boeliegedrag van leerders teenoor onderwysers aan te spreek?
12/10/2021 • 42 minutes, 43 seconds
Praat saam 9 Desember 2021
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ingestem om met onderhandelinge te begin vir ‘n internasionale verdrag om toekomstige pandemies te verhoed en te beheer. Sowat 194 lande wat deel van die WGO is, het die ooreenkoms bereik en sal hopelik teen Mei 2022 in plek wees. Sowat 5,5- miljoen mense is dood weens Covid-19 sedert die virus in China opgespoor is. Die WGO sê China het tot op hede nog nie van sy inligting oor die virus se ontstaan bekendgemaak nie. Hoe lyk China se internasionale diplomatieke pad vorentoe?
12/9/2021 • 41 minutes, 1 second
Praat saam 8 Desember 2021
Diskriminasie weens ouderdom is nét so onaanvaarbaar as diskriminasie gebaseer op ras, geslag en seksualiteit. Nogtans word dit dikwels misgekyk. Navorsing deur die American Association of Retired Persons het bevind dat 64% van werkers al ouderdomdiskriminasie ervaar of waargeneem het. Hoe lyk dit in jou werkplek? Behoort ouderdom ‘n rol te speel in die werkplek? Watter rol kan ouer mense in die land speel?
12/8/2021 • 40 minutes, 44 seconds
Praat saam 7 Desember 2021
MTN is die jongste maatskappy wat besluit het dat sy werkernemers ingeënt moet word en die nodige bewyse moet lewer. Ander maatskappye wat op die JSE gelys is en wat hierdie pad gevolg het sluit in Standard Bank, Sanlam, Discovery, Old Mutual, Mediclinic, Life Healthcare, Anglo American en Curro. Die debat oor verpligte inentings duur voort met gemengde reaksies. Wat maak jy as jou werkgewer jou verplig?
12/7/2021 • 40 minutes, 43 seconds
Praat saam 6 Desember 2021
Volgens die jongste werkloosheidstatistiek het werkloosheid in die derde kwartaal gestyg tot ‘n rekord 34,9%. Die grootste toename in werkloosheid is in Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal en Limpopo aangeteken. En volgense die jongste misdaadstatistiek het geweldsmisdade, huisbraak, inbrake by werkspersele en kapings toegeneem. Wat is die verwantskap tussen werkloosheid en misdaad?
12/6/2021 • 39 minutes, 51 seconds
Praat saam 3 Desember 2021
Nederlandse gesondheidsowerhede sê meer as 20 passasiers wat in kwarantyn was sedert hulle positief getoets het vir Covid-19 nadat hulle verlede Vrydag vanuit Suid-Afrika na dié land gevlieg het, word van vandag af toegelaat om terug te keer. Suid-Afrika probeer nog sin maak van die reisverbod wat verskeie lande ingestel het nadat ons wetenskaplikes die nuwe Omicron-variant ontdek en die wêreld ingelig het. Baie meen leiers het oorreageer, ander noem dit xenofobiese gedrag. Wat sê dit van hulle houding teenoor Suider-Afrika?
12/3/2021 • 40 minutes, 44 seconds
Praat saam 2 Desember 2021
Suid-Afrika het van die mees progressiewe menseregtewetgewing en beleid wat Alle genders beskerm, hoe jy ook al identifiseer. Dit lyk mooi op papier, maar toepassing in praktyk ontbreek. Die jongste misdaadstatistiek wys Suid-Afrika is een van die gevaarlikste lande vir vroue. Die jaarlikse 16 dae veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het onlangs begin, en baie vroue het hulle misnoë oor die veldtog uitgespreek. Wat beteken ‘n 16 dae veldtog op grondvlak vir vroue en kinders, of moet daar ‘n herbesinning van prioriteite kom?
12/2/2021 • 40 minutes, 26 seconds
Praat saam 1 Desember 2021
Die Covid-19-pandemie het die wêreld se fokus en gesondheidshulpbronne die afgelope twee jaar oorheers met die mandaat om ‘n entstof te kry. Die ander oordraagbare siektes het uit die kollig verdwyn, maar vandag, op Wêreldvigsdag, kyk ons na die ongeveer 8-miljoen Suid-Afrikaners wat met MIV/Vigs leef. Hoe lyk dinge nou te midde van die pandemie, en hoe raak dit behandeling en die navorsing wat gedoen word?
12/1/2021 • 40 minutes, 31 seconds
Praat saam 30 November 2021
‘n Suid-Afrikaner het onlangs hulle eie lewe geneem deur van ‘n verdieping by Sandton City af te spring. Volgens die DA se skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, Refiloe Nt’sekhe, was daar die afgelope boekjaar 90% meer gevalle van selfdood in Gauteng, en die Covid-19-pandemie het ’n groot rol hierin gespeel. Wat was die sielkundige en emosionele impak op jou die afgelope 20 maande?
11/30/2021 • 40 minutes, 44 seconds
Praat saam 29 November 2021
Die Verenigde Nasies se klimaatsberaad, COP26, het sy fokus verskuif en kyk nou na finansiersingsmoontlikhede vir beleidsaksies vanuit die private sektor. Honderde van die wêreld se grootste banke en finansieringsmaatskappye het by ‘n alliansie aangesluit wat hulle finansiële steun vir die oorgang sal bied om in ‘n laekoolstof-toekoms te belê. Gaan dit hier oor die hondjie of die halsbandjie?
11/29/2021 • 39 minutes, 47 seconds
Praat saam 26 November 2021
Is daar ‘n aanslag op die Afrikaanse taal en sprekers? Daar is diverse menings binne die Afrikaanse gemeenskap hieroor. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het dit benadruk dat hulle hul distansieer van die Minister van Hoër Onderwys, Tegnologie en Innovasie, dr. Blade Nzimande, se “uitgediende stereotipering van die Afrikaanse taalgemeenskap.” Verlede week het ons ‘n gesprek gehad oor simbole en die EFF se voorstel dat Die Stem-deel van die volkslied verwyder en vervang moet word. Is daar ‘n aanslag op die Afrikaanse taal en sprekers?
11/26/2021 • 43 minutes, 15 seconds
Praat saam 25 November 2021
Met die meeste koalisies in plek, nuwe burgemeesters wat verkies is, en waarskynlik nog kopstampery binne raadsvergaderings oor poste, kyk ons na die rol van die media in die dekking van plaaslike regeringskwessies - nie net tydens verkiesingsveldtogte of wanneer manifeste bekendgestel word nie, maar ook beriggewing oor uitdagings van inwoners op plaaslike regeringsvlak voor en ná verkiesings.
11/25/2021 • 36 minutes, 31 seconds
Praat saam 24 November 2021
Patricia Zweig, 'n dosent vir ramp- en risikovermindering aan die Universiteit Stellenbosch, vra in ‘n navorsingstudie in die akademiese vaktydskrif, Area, hoe mens arm, gemarginaliseerde jong mans in informele nedersettings aanmoedig om openhartig oor hulle onsekerhede en uitdagings te praat. Zweig sê navorsing wys dat jong mans in informele nedersettings meer dikwels misdaadslagoffers is, wat wys op hulle kwesbaarheid in hierdie gemeenskappe. Ons praat oor die konsep van manlikheid en manwees – nie net in arm gemeenskappe nie, maar in ‘n veranderende samelewing.
11/24/2021 • 41 minutes, 28 seconds
Praat saam 23 November 2021
Die Minister van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, sê die stabilisering van misdaadtendense in die provinsie is bemoedigend. Fritz het gereageer op die jongste misdaadstatistiek wat die Minister van Polisie, Bheki Cele, bekendgemaak het. Volgens die statistiek is daar ‘n toename in geweldsmisdaad in die ander provinsies. Fritz sê in die Wes-Kaap het bendeverwante moorde, aanranding, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede onderskeidelik met tussen drie en 15-persent afgeneem. Die SAPD sukkel om misdaad hok te slaan. Moet hulle die praktyk en strategie verander, en hoe?
11/23/2021 • 37 minutes, 20 seconds
Praat saam 22 November 2021
Die ANC in Noordwes het amptelik ‘n koalisie-ooreenkoms aangegaan met twee opposisiepartye en ‘n onafhanklike kandidaat in die Rustenburg plaaslike munisipaliteit. Dié munisipaliteit is een van drie in die provinsie, waar daar nie ‘n volstrekte meerderheid in die verkiesing behaal is nie. As daar nie koalisies in munisipaliteite in plek is nie, hoe beïnvloed dit dienslewering en politieke sekerheid?
11/22/2021 • 41 minutes, 34 seconds
Praat saam 19 November 2021
Die EFF wil hê dat Die Stem uit die huidige volkslied verwyder en met ander woorde vervang word. Die party se president, Julius Malema, sê dit gaan nie gaan oor die taal, of 'n poging om Afrikaans uit te sluit nie, maar eerder die historiese konteks. Hy sêt ‘n mooi, nuwe Afrikaanse melodie moet gekomponeer word om Die Stem te vervang. Ons praat oor die stigma en historiese lojaliteit teenoor sekere simbole, en hoe jy teen daardie agtergrond ‘n inklusiewe samelewing kan skep.
11/19/2021 • 40 minutes, 37 seconds
Praat saam 18 November 2021
Dit is 20 maande sedert die Nasionale Ramptoestand in Suid-Afrika afgekondig is weens die coronaviruspandemie, wat in Maart verlede jaar in die land uitgebreek het. Die Departement van Gesondheid waarsku dat ‘n vierde vlaag van die virus verwag word, moontlik van middel Desember af of vroeg in Januarie 2022. Ons praat oor die ekonomiese implikasies hiervan vir die land vorentoe.
11/18/2021 • 44 minutes, 55 seconds
Praat saam 17 November 2021
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê hy ondersoek die voorval waartydens ‘n polisiebeampte ‘n man geskiet het by ‘n lodge in Muldersdrift buite Krugersdorp. Die polisie se hulp is ontbied nadat die man, wat glo gewapen was, in ‘n onderonsie met personneellede betrokke was. Op beeldmateriaal wat op sosiale media verprei word, kan gesien word hoe die man sy vuurwapen oorhaal en ‘n vroue polisiebeampte se wapen by haar afneem. Hy word daarna deur ‘n ander polisiebeampte in die kop geskiet. Hy is in ‘n koma onder polisiebewaking. Wat is die regte en verantwoordelikhede van vuurwapeneienaars wanneer ‘n wapen hanteer word?
11/17/2021 • 38 minutes, 35 seconds
Praat saam 16 November 2021
Die FW de Klerk-stigting het aangekondig dat wyle president De Klerk ‘n private verassing en begrafnis sal hê. De Klerk is verlede Donderdag by sy huis in Kaapstad oorlede nadat hy vroeër vanjaar met kanker gediagnoseer is. Hy was 85. Sy dood het gemengde reaksie ontlok, met sommige wat hom as ‘n uitverkoper brandmerk en ander wat hom loof vir die Rubiconoorgang wat die land voor demokrasie gemaak het. Ons praat oor die polemiek en politiek wat die dood kan meebring.
11/16/2021 • 41 minutes, 49 seconds
Praat saam 15 November 2021
Die inhuldiging van die nuwe DA-burgemeester van die Umgeni-munisipaliteit in die KwaZulu-Natalse Middeland, Chris Pappas, is ontwrig toe die geskorste munisipale bestuurder, Thembeka Cibane, aangedring het om die verrigtinge te lei. Die DA en die EFF het uitgestap nadat die waarnemende munisipale bestuurder na bewering geweier het om Cibane te vra om die sitting te verlaat. Die DA wil nou regsmening kry oor die geskorste munispale bestuurder. Wat is die belangrikste kwessies wat die koalisierade moet aanspreek?
11/15/2021 • 38 minutes, 45 seconds
Praat saam12 November 2021
Die voormalige Johannesburgse burgemeester en leier van Action SA, Herman Mashaba, sê hy is bereid om sy persoonlike gevoelens opsy te skuif en met die DA in ‘n koalisieregering saam te werk. Mashaba het bevestig dat Action SA in gesprek is met die DA en die EFF oor moontlike koalisievorming in Johannesburg en Tshwane. Hy het aanvanklik gesê hy sal nooit as te nimmer met die DA, ANC en EFF in vennootskap tree nie. Ná die verkiesing het partye twee weke om ooreenkomste op skrif neer te pen. Ons bespreek die koalisieonderhandelinge, en vra wat partye moet opoffer om mag te bekom.
11/12/2021 • 40 minutes
Praat saam 11 November 2021
Eskom se bestuurshoof sê hy gaan nié bedank nie, nadat die kragvoorsiener die afgelope week fase 4 beurtkrag ingestel, en dit later na vlak 3 afgradeer het. Intussen skryf die joernalis Max Du Preez die volgende: “Sonder André de Ruyter aan die stuur lyk Eskom se toekoms heelwat donkerder.” Hy lewer ook kommentaar op pogings om van De Ruyter en Cyril Ramaphosa as leier van die ANC ontslae te raak, en noem dit ‘n propaganda-oorlog. Ons fokus op leierskap, hetsy op raadsvlak as deel van ‘n uitvoerende gesag, of op ‘n politieke vlak.
11/11/2021 • 38 minutes, 49 seconds
Praat saam 10 November 2021
Na ons gesprek twee weke gelede oor die druk en stres wat matrikulante tydens die eindeksamen ervaar, is ons oorval met briewe van ouers en matrieks wat sê hulle ervaar ook stres weens universiteitsaansoeke wat moet klaarkom en die laat kennisgewings van universiteite oor moontlike toelating tot kursusse. Hoe lyk die keuringsprosesse van universiteite gegewe die veranderinge met die hantering van die Covid-pandemie?
11/10/2021 • 43 minutes, 24 seconds
Praat saam 9 November 2021
Die gemeenskap van Durbanville in die Kaap is in rou gedompel ná die dood van 'n 66-jarige man wat deur twee honde aangeval is. Dit is steeds onduidelik hoe die honde uit die erf ontsnap het. Die oorledene se gesig, kop en voete is gebyt. Behoort eienaars aanspreeklik gehou te word vir hulle diere se dade? Tot waar strek die regte en verantwoordelikhede van ‘n diere-eienaar?
11/9/2021 • 40 minutes, 15 seconds
Praat saam 8 November 2021
Die meeste Metrorade en munisipaliteite landwyd sal deur koalisies bestuur moet word. Politieke partye het sowat twee weke om koalisie-ooreenkomste op papier neer te pen. In die eerste van ‘n reeks gesprekke met rolspelers op plaaslike regeringsvlak, praat ons oor die rol en plek van vakbonde in hierdie sfeer.
11/8/2021 • 42 minutes, 22 seconds
Praat saam 5 November 2021
Die meeste metrorade en munisipaliteite sal deur koalisies bestuur moet word. In 66 rade is daar geen volstrekte meerderheid deur enige party nie, insluitend agt metrorade. Altesaam 12,3 miljoen mense het hulle kruisies gaan trek. Ons bespreek die uitslae van die verkiesings, en vra wat is die boodskap wat kiesers aan politieke partye gestuur het?
11/5/2021 • 41 minutes, 45 seconds
Praat saam 4 November 2021
Swartvrydag-winskope word nou wyd en syd geadverteer. Dit word die afgelope paar jaar gekenmerk deur verbruikers wat na winkels jaag, maar dit beteken nie hulle het werklik die geld om dit te doen nie. Met ‘n verswakkende ekonomie en dalende werkloosheid word al hoe meer Suid-Afrikaners verswelg deur hoë skuldvlakke. Ons kyk na verbruikerstendense en bestedingspatrone in ‘n sukkelende ekonomie. Maak jy skuld om te oorleef?
11/4/2021 • 41 minutes, 19 seconds
Praat saam 3 November 2021
Die OVK sal teen môre die finale uitslae van die plaaslike regeringsverkiesing bekendmaak. Suid-Afrika het sedert die waterskeidingsverkiesing van 1994 stelselmatig ‘n afname in kiesersdeelname oor alle ouderdomsgroepe gesien. Die politieke ontleder, Tinyiko Maluleke, skryf in ‘n meningstuk dat politieke partye moet ophou om te suggereer dat kiesers ongeletterd en onbewus is van hulle reg om te stem wanneer hulle kies om nie deel van ‘n demokratiese proses te wees nie. ‘n Wegblystem is ook ‘n stem. Hoe moet ons die lae stempersentasie verstaan?
11/3/2021 • 41 minutes, 31 seconds
Praat saam 2 November 2021
Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, is optimisties dat sy party as oorwinnaar uit die stryd sal tree ná gister se plaaslike regeringsverkiesing. Hy sê hulle het landwyd na mense se bekommernisse geluister en onderneem om dienslewering te verbeter. Verskeie meningspeilings wys dat van die prominente partye, soos die ANC, genoodsaak sal wees om koalisies met kleiner partye aan te gaan om beheer van ‘n munisipaliteit te verseker. Wie is moontlike politieke bedmaats? Wat gee jy prys om ‘n wen-wen vir albei partye te verseker?
11/2/2021 • 44 minutes, 17 seconds
Praat saam 1 November 2021
Die Departement van Basiese Onderwys sê ondanks kommer oor die invloed van beurtkrag op die matriekeindeksamen, is geen probleme tot dusver aangemeld nie. Die begin van die eindeksamen is met vier dae vervroeg weens die plaaslike regeringsverkiesings. Vanjaar se Graad 12-leerlinge het verlede jaar sowat ‘n halwe jaar se onderrig by skole misgeloop weens inperkingsregulasies. Meer as 800 000 matrikulante skryf landwyd vanjaar eindeksamen. Ons praat oor die stres van ‘n matriekeindeksamen, wat gepaard gaan met ‘n pandemie en beurtkrag wat studiepatrone ontwrig.
11/1/2021 • 40 minutes, 56 seconds
Praat saam 29 Oktober 2021
Die miljardêr, Elon Musk, is op die punt om die wêreld se eerste triljoenêr te word. Musk sê hy is optimisties dat sy motormaatskappy, Tesla, teen aanstaande maand reeds met die produksie van motors in Berlyn in Duitsland sal kan begin. Die plan is om die eerste elektriesaangedrewe vragmotors by die aanleg te vervaardig. Musk, wat in Pretoria grootgeword het, sê daar is minstens 12 000 werksgeleenthede by dié aanleg. Hy het werksoekers dwarsoor Europa aangemoedig om aansoek te doen vir werk by die aanleg, sodat die vervaardigingsproses vinnig op dreef kan kom. Ons fokus op welvaartskepping, en vra of die Suid-Afrikaanse ekonomie welvaartskepping of afhanklikheid bevorder.
10/29/2021 • 35 minutes, 19 seconds
Praat Saam 28 Oktober 2021
Krieket Suid-Afrika se raad het besluit om riglyne uit te reik waarvolgens alle Proteas die “knie moet buig” voor die begin van die oorblywende T20-wêreldbekerwedstryde. Met dié kniebuiging moet spelers op ‘n konsekwente en verenigde wyse standpunt inneem teen rassisme. Die raad sê gegewe Suid-Afrika se geskiedenis is dit noodsaaklik dat die span konsekwent standpunt inneem teen rassisme. Behoort ‘n maatskappy of instelling sy werkers te verplig om standpunte oor rassisme en ander politieke of sosio-maatskaplike kwessies in te neem?
10/28/2021 • 39 minutes, 23 seconds
Praat saam 27 Oktober 2021
Skoolbeleid oor uniforms word dikwels geskryf op maniere wat onbillike diskriminasie bevorder. Voorbeelde hiervan sluit in die verbod op hoofbedekkings soos doeke en serpe, wat Moslem-meisies dra, of die verbod op bepaalde haarstyle, wat deel kan wees van die godsdienstige identiteit en uitdrukking van leerders. Volgens The Student Assembly, ‘n groep leerders by verskeie skole, kan skoolbeleid gebruik word om bepaalde studente se belewing van hulle godsdienstige en kulturele praktyke te ondermyn, waar veral swart studente se haarstyle as onnet of onvanpas gebrandmerk word. Wat is die relevansie van skooluniforms in hedendaagse tye?
10/27/2021 • 39 minutes, 27 seconds
Praat saam 26 Oktober 2021
"Doeltreffende plaaslike regerings is van kardinale belang vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling: munisipaliteite moet die infrastruktuur en basiese dienste lewer wat huishoudings 'n leefbare lewenstandaard toelaat, beleggings lok en werk skep. Ongelukkig misluk baie munisipaliteite in hierdie verband, met baie van Suid-Afrika se munisipale wat sukkel om plaaslike ekonomiese ontwikkelingsplanne te implimenteer.” (Helenya Fourie van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek) Hoe lyk ekonomiese ontwikkeling op plaaslike regeringsvlak?
10/26/2021 • 39 minutes, 2 seconds
Praat Saam 7 Desember 2018
Die Staatsdiens Werknemerspensioenfonds het sy belegging van R4.3 miljard in Steinhoff se bemagtigingsaandeelhouer, die Lancaster-groep, afgeskryf. Dit is glo direk gekoppel aan die ineenstorting van die Steinhoff-aandeelprys. Wat is die impak en gevolge van verlore beleggings op die kontantvloei van die fonds en die bestuur daarvan?